Saturday, January 5, 2008

Die Kind wat nou 'n Man word

Die kind wat nou ‘n Man word
(onbekend.. :-) )

En nou, ou Grootman,

Kom ons by die ding wat seker meeste,
Allermeeste saakmaak.
Ek sien met my mamma-oë dat die meisiekind
jou hart in haar hande vashou.

Ek wil vra:
Werk sag, Werk mooi,
Want sy is nog maar ‘n bokkie-kind
Wat op nuwe grootwordbeentjies
Die pad soek.

Wees vir haar ‘n maat,
My kind,
‘n Saam-loop-met-my-metgesel
Wat saam met jou kan groei tot volwassenheid.
Natuurlik mag jy haar hand vashou,
Domkop,

En natuurlik gaan jy haar op ‘n wit maanligaand
Vashou en vertel
Hoe mooi sy is!
Maar versigtig vashou,
My seun,
Versigtig werk, soos met, fyn glas.

O, droom saam oor oormore se ideale!
Loop hand aan hand
Deur die lewe en
Leer haar van jou seunswêreld, en
Luister…,
As sy vertel.

Gaan gee haar laataand vir haar mamma terug,
My liefkind,
En kyk die ouers wat haar liefhet,
Eerlik in die oëEn sê:
Dankie vir die leen van hierdie kosbare skat.

En kom gou-gou terug
Terug huis toe,
Want hier wag Pappa en ek
Nog altyd vir jou,
Want jy maak saak
Ons soek jou heeldag,
Veral jou borrellag,
En selfs
Jou skewekop-geid
As nukke jou beetkry
Op ‘n sleg dag.

En laatnag loop ek na jou kamer
En ek kniel
By jou bed
En ek bid:

“Here, die kind wat U vir ons gegee het,
is ‘n heerlike geskenk.
Help ons as die dag kom
Waarop ons hom moet losmaak
Losmaak dat hy kan gaan,
Sodat ons sal weet hoe!

Universiteit of oorsee Of meisiekind of ‘n Ander ideaal,
Leer ons om te deel.
En barmhartige God,
Hou hom styf teen u vas,
Want…dis koud daarbuite.”

Mamma

(19 November 2007)
(12 Desember 2007)
(21 Desember 2007)
(23 Desember 2007)
(27 Desember 2007)

No comments: