Vergewe en Vergeet
Daar het 'n doringboompie vlak by die pad gestaan, waar lange ossespanne met sware vragte gaan. En eendag kom daarlanges 'n ossewa verby,wat met sy sware wiele dwars-oor die boompie ry. "Jy het mos, doringstruikie, my ander dag gekrap; en daarom het my wiele jou kroontjie platgetrap." Die ossewa verdwyn weer agter 'n heuweltop, en langsaam buig die boompie sy stammetjie weer op. Sy skoonheid was geskonde; sy bassies was geskeur; op een plek was die stammetjie so amper middeldeur. Maar tog het daardie boompie weer stadig reggekom, want oor sy wonde druppel die salf van eie gom. Ook het die loop van jare die wonde weggewis - net een plek bly 'n teken wat onuitwisbaar is. Die wonde word gesond weer as jare kom en gaan, maar daardie merk word groter en groei maar aldeur aan.
Totius
No comments:
Post a Comment