Monday, September 1, 2008

Die Beste

Geil lusern in die laagste landjie,
Geil groen blare en blomme blou,
Alwyn rooi op die voorste randjie,
Rooi soos bloed teen die rotse grou;
Somer en son en safier daarbowe,
Ruik van die keurbos rondgesprei,
Kort klein skad’wees oor die klowe;
Somer en son en safier vir my!
Wonder van kleure uitgesprei—
Wat is daar meer wat die dood berowe?
Somer en son en safier vir my!

Hoog oor die water skommel die vinkies
Vol van die vreug van die somerdag:
Bly die gekwetter van klein tinktinkies,
Blyer die son wat goudgeel lag.
Algar wat lewe, algar tevrede,
Hoog op die heuwel en laag op die vlei;
So was dit gister en so is dit hede,
Somer en son en safier vir my!
Heer, Wat die hemel oor my sprei,
Dit is my eerste en laaste bede:
Somer en son en safier vir my!

Roem van mense, rykdomme, pragte—
Alles vergaan soos die mis op die vlei;
Sterre wat skiet in dikdonker nagte,
Het langer lewe dan roem kan kry.
Boetie, as ons nou ’n keus moet wae
Hier op die wêreld, wat vra jy?
Roemryke lewe en lengte van dae?
Somer en son en safier vir my!
Boetie, as jy nou jou keus kan kry,
Wat is die wens wat jou hart sal wae?
Somer en son en safier vir my!

- C. Louis Leipoldt -

No comments: